'n Land se buitelandse beleid, ook genoem buitelandse betrekkinge of buitelandse sake beleid, bestaan uit strategieë vir eie belang wat deur die staat gekies word om sy nasionale belange te beskerm en om doelwitte binne sy internasionale betrekkinge-omgewing te bereik. Buitelandse beleid word ook strategies gebruik deur 'n regering om met ander lande te kommunikeer. Die bestudering van sulke strategieë word buitelandse beleid analise genoem. As gevolg van die verdieping van globalisering en transnasionale aktiwiteite, moet state ook in onlangse dekades met buitelandse nie-staat akteurs verhoudings bestuur. Hierdie interaksies word geëvalueer en gemonitor om die voordele van bilaterale en multilaterale internasionale samewerking te bekom.
Aangesien die nasionale belange sentraal is, ontwerp regerings hul buitelandse beleid deur middel van hoëvlak-besluitnemingsprosesse. Doelwitte kan bereik word deur vreedsame samewerking met ander state, of deur uitbuiting. Gewoonlik is die skepping van buitelandse beleid die taak van die regeringshoof en die minister van buitelandse sake (of ekwivalent). Moderne state neem honderde, duisende of meer professionele diplomate in diens van hul diplomatieke diens wat gewoonlik 'n Departement van Buitelandse Sake is. Baie van hul werk behels die implementering en ondersoek van die doeltreffendheid van riglyne vir verklaarde buitelandse beleidsdoelstellings. Hulle sorg daarvoor om verenigbare buitelandse beleidsdoelstellings tussen vennoot state en nie-regeringsorganisasies (NRO's) te harmoniseer, terwyl hulle ook aan hul agentskappe verslag doen oor die sukses en hindernisse van hul pogings. In die geval van Suid-Afrika word die taak deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking bestuur en gekoördineer.
In sommige lande het die wetgewer ook 'n aansienlike invloed op buitelandse sowel as op ander gebiede van openbare beleid, meestal in liberale demokrasieë. State met 'n sterker eenheidsuitvoerende regeringsvertakking en wat nie parlementêre soewereiniteit het nie, het swakker wetgewende betrokkenheid by buitelandse beleid, behalwe in gevalle van outokrasieë waar een regeerder belangrike besluite oor alle nasionale beleid aangeleenthede hanteer, waar die outokraat die wetgewer is. Verkiesings en ander verskuiwings in die regering se samestelling kan die verloop van buitelandse beleid verander, selfs op gebiede met lang periodes van konsekwentheid, wanneer nuwe leierskap inkom met nuwe doelstellings en ander sienings oor nasionale belange.
Buitelandse beleid van lande het wisselende koerse van verandering en omvang van voorneme, wat beïnvloed kan word deur faktore wat die waargenome nasionale belange verander of selfs die stabiliteit van die land self kan beïnvloed. Die buitelandse beleid van 'n land kan 'n diepgaande en blywende impak hê op ander lande en op die verloop van internasionale betrekkinge in die geheel, soos byvoorbeeld die Monroeleer wat strydig was met die merkantilisme van die Europese 19de-eeuse lande en die doelwitte van die nuut onafhanklike Sentraal-Amerikaanse en Suid-Amerikaanse lande.
Sommige tersiêre instellings bied buitelandse beleid as spesialiseringsgebied op Magister artium vlak in politieke wetenskap of openbare beleid aan, soos die Balsillie School of International Affairs, Sciences Po Paris, Munk School of Global Affairs, Graduate Institute Geneva en London School of Economics, onder andere.